Slaap soet, my Nonnie hart-lief-kind

(Geskryf 18 Jun ’21)  Tydens Mei 2020 het ek 2 ligte of waarskuwende hartaanvalle gehad waarna ek ’n angiogram moes ondergaan.  ’n Paar maande daarna laat weet ’n dierbare persoon my dat ’n nuwe werpsel French Bulldogs by haar gebore is en dat daar net een fawn pied tefie is met ’n merk op haar ruggie in die vorm van ’n hartjie.  Ek het net daar en dan besluit dat sy ons hartjie-hondjie is en dat haar naam “Nonnie” moet wees.  Ek het opgesoek na die betekenis van die naam, en dit beteken:  “sun ray” en “shining light”.  Ek het toe geweet Nonnie is bedoel om ons hondjie te wees omdat die meeste van ons honde se name iets met Lig te doen het.  So het Nonnie met die eerste intrap-slag dadelik in my hart ingeklim.  Sy het die sagste ogies gehad en ek kon vir lang tye my verloor in haar ogies.  Daar was ’n baie hegte band tussen my en Nonnie;  sy het gedink sy is die baas tussen die Frenchies… al was sy die kleinste, kon niemand haar onderkry nie…

My jaarlikse hart-ondersoek was geboek vir  Donderdag17 Junie.  Sondag 13 Junie, raak Nonnie siek.  Ek kon hoor die fout lê by haar longe… dalk het sy verkoue gekry, want haar neus was ook bietjie loperig en daar was ’n afskeiding uit haar ogies.  Ek het haar koors geneem, maar dit was normaal.  Ek het dadelik met ‘n breë-spektrum antibiotika begin.  Maandagoggend besluit ek om tog maar die veearts te bel sodat hy kan kyk na haar longe.  By die veearts gekom, luister die veearts na haar hart en longe, maar wat snaaks was, was dat hy gesukkel het om die linkerlong mooi te hoor.  Hy neem toe ’n x-straal van haar borskas en haar linkerlong lyk toe baie donker op die x-straal – so donker dat ons nie haar hart deur die long kon sien nie.  Die donkerheid op die long kon dui op vog wat in die long is en die veearts het besluit om haar op ’n baie sterk antibiotika te sit asook ’n waterpilletjie wat die vog kan laat opdroog in die long.  

Terug by die huis, lyk dit tog asof Nonnie beter voel.  Sy eet al ’n klein bietjie en drink baie water, maar sy haal die heeltyd moeilik asem.  Dinsdag lyk sy nogsteeds dieselfde en die aand kom vra sy heeltyd om op my skoot te lê.  Ek hou haar regop teen my, dalk help dit met haar asemhaling.  Sy lê met haar borsie teen myne en heeltyd kyk sy my in die oë.  As ek vir haar terugkyk, begin sy my lek… sagte lekkies.  Dit is die eerste keer wat Nonnie my so baie lek.  My hart het gerus gevoel, ek het gedink Nonnie sal gesond raak.  Die volgende dag moes ek en my man stad toe ry vir my afspraak Donderdagoggend vroeg.  My seuns het na die honde omgesien en ek was baie gerus daaroor, want ek weet die seuns (veral Nukie) is baie “capable” om te kyk na hulle en seker te maak Nonnie is gemaklik.  

Donderdagoggend, net voor ek ingaan by die kardioloog, laat weet Nukie my dat Nonnie nie goed lyk nie.  Ons besluit toe dat sy teruggaan veearts toe sodat hulle na haar kan kyk totdat ek terug is.  Die uitslae van my hart-toetse was puik, die dokter kon self nie glo hoedat my hart genees het in ’n jaar se tyd nie.  Selfs my hartfunksie het baie verbeter.  Ek was so verlig toe ek by die dokter se spreekkamer uitstap, dankbaar om te weet die Here se hand was oor my, want dit is net GENADE wat my hart geheel het.  Soos ek uitstap uit die hospitaal, kontak die veearts my… Dit gaan baie sleg met Nonnie, haar borskas is gevul met bloed en hulle weet nie waar kom die bloed vandaan nie.  Sy is besig om te ly, want sy kry nie meer asem nie.  Die beste vir haar sal wees om haar te laat slaap… en my hart wil breek… ek is nie eers daar om haar vas te hou as hulle haar lewe gaan eindig nie, ek is nie daar om vir haar te sê hoe verskriklik lief ek haar het nie… ek is nie daar wanneer die lewe haar lyfie verlaat en sy vlerkies kry om te vlieg na die hemel   nie.  EK IS NIE DAAR NIE!!!  Ek moes 400 km ver weg wees van my siek Nonnie-kind  om te kom hoor dat my hart genees het… en op dieselfde tyd wat ek die goeie nuus ontvang oor my fisiese hart wat genees is, moes ek hoor dat my hartjie-hondjie nie meer asem oorhet nie… iemand anders moes haar gerusstel dat alles ok sal wees vir haar, dat ons die beste vir haar wil hê, dat ons nie wil hê sy moet ly nie… my hart is fisies gesond, maar emosioneel gebreek… 

Ek dink tog Nonnie het geweet… nou verstaan ek dat sy my so baie gelek het Dinsdagaand omdat sy toe alreeds vir my dankie wou sê dat ons haar sou verlos.  Sy was nog so jonk… 8-9 maande oud, maar ek weet dit was so beplan deur die groter Hand en ek weet ek mag nie vrae nie… ek moet net deur die hartseer en die rou kom, want daar sal nooit weer ’n hartjie-hondjie Nonnie wees nie.  

Met die nadoodse ondersoek het hulle gesien dat haar long gedraai het.  Ek het nog nooit van so iets gehoor nie, maar ja, ’n dier se long is anders as ’n mens s’n en kan draai.  Hulle noem dit “Lung Lobe Twisting”.  Toe verstaan ek eers hoekom die veearts nie haar long se werking kon hoor met die stetoskoop nie… hoekom die long so donker vertoon het op die x-straal… dit is omdat ons die verkeerde kant van die long gesien het.  

My Nonnie-kind, my hart-lief-kind

met sagte ogies en soetsappige soentjies…

Jy het gekom uit die verte, anderkant die blou berge

met ’n wip in jou stap en geklingel in jou hart

vinnige pootjies met hartedief spoortjies

jy het diep getrap in jou mamma se hart

my hartjie, my liefie

die son sak weg…

daar anderkant die blou berge…

Slaap soet…

 My Nonnie-kind, my hart-lief-kind              

2 Comments on “R.I.P Nonnie-liefde

  1. My hart huil saam met jou oor jou hart lief kind so jammer vir jou seer en jou groot verlies.

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: